Aandiebeginwasdaar

Attie discusses Politics, Sport, Tech, Nature, Media, Humour & stuff about us.

Archive for February 2009

Blou Bulle se godsdiens is onvanpas

with 16 comments

Ek en my familie bly in ‘n klein dorp in die Oos-Kaap. Ek het grootgeword hier, maar ek is gebore op die delwersdorp Carletonville in die Transvaal. Nou my belydenis:  ek is ‘n baie baie groot Blou Bul ondersteuner. Ek weet self nie presies hoekom nie, die goed gebeur mos maar as jy klein is. My pa het vir Noord-Transvaal geswem toe hy jonger was; dit het miskien iets daarmee te doen gehad. Vra enige ou wat my ken en die sal vir jou sê dat my ondersteuning nogal ‘n ernstige saak is. :)

Maar so mal soos wat ek oor die Bulle is is dit vir my rêrig belaglik as hulle ‘n drie druk of ‘n wedstryd wen, dat hulle hul god prys. As daar ‘n god was hoekom sou hy spesifiek wou hê dat die Bulle ‘n wedstryd moet wen. Die Sharks het ook ‘n klomp godsdienstige fanate (Jacques Botes ens). Hoe besluit god wie moet wen tussen die Bulle en die Sharks? Ek dink dit het baie meer te doen met wie beter rugby speel en wie harder ge-oefen het. Ek dink rêrig nie god sou vir Pierre Spies bo Luke Watson (ook ‘n groot Christen) kies om goed te speel nie. Pierre Spies is net beter omdat hy fisies meer aangepas is (deur evolusie natuurlik; waarskynlik die onderwerp van ‘n toekomstige post) vir rugby. Of jy nou ‘n Christen is of nie: “God simply doesn’t come into it”.

Ek moet sê ek verwag nie veel meer van rugby spelers nie. Intelligensie is uit die aard van die saak nie ‘n vereiste vir goeie rugby nie, maar dit bekommer my van ‘n grondwetlike oogpunt. Die beheptheid met Christenskap dra nou nie juis by tot die baie belangrike beginsel van godsdiensvryheid nie. Ek dink ‘n Ateïs soos ek of ‘n Moslim sou nie aanvaar word by die Blou Bulle nie. Dis juis vir hierdie rede dat ‘n mens nie godsdiens by die werk (in die geval Loftus Versfeld) beoefen nie. As dit andersom was en almal was Ateïste sou ‘n Christen nie die heeldag Ateïsme in sy keel wou afgedruk hê nie.

Dit bring ‘n mens noodwendig na ons ou vrind Joost :) Kyk ek dink nie Joost is ‘n goeie segsman vir Christenskap nie. Die een oomblik snuif hy kokaïne en verkeer saam met ‘n slet en die volgende oomblik “behoort sy hart aan die Here”. Met sy geloof op sy mou lyk hy nou net soveel meer belaglik. Weereens nog ‘n rede hoekom ‘n mens jou godsdiens privaat hou.

Ek vra dus vir die Blou Bulle (en ander Suid-Afrikaanse sportlui ook) om hulle godsdiens privaat te beoefen en nie dit in mense se kele af te probeer druk nie. Godsdiens is rêgtig tog ‘n persoonlike saak.

Written by Attie Heunis

February 23, 2009 at 10:16 vm

Oudtshoorn vakansie

with one comment

Na ‘n baie besige seisoen het ons drie (Ek, Lené en Elke) laas week ‘n vakansie in die Klein Karoo gehad. Ons het besluit om in Oudtshoorn te bly want dit is redelik sentraal vir ‘n klomp aktiwiteite in die omgewing. Ons het gebly in self-catering eenhede by Klienplaas. My indruk was baie positief – dis baie redelik; in die dorp en daar is ‘n reuse swembad (‘n moet vir die 40°C somersdae in Oudtshoorn).

Crocodile leaps 2m

Crocodile leaps 2m

Dag 1: Cango Wildlife Ranch. Dit is ‘n bietjie kommersieel en min mense hou van diere in hokke, maar vir kinders is dit ‘n belewenis. Ek moet sê die hokke is baie groot, silwerskoon en daar is ‘n bewaringselement (byvoorbeeld die jagluiperd program). Daar is ook wit leeus (waaroor ek maar skepties is). Die krokodille is nog steeds ‘n hoogtepunt van die park. Ek het ook by volwasse jagluiperds in ‘n hok geklim. Dit was iets spesiaals al sal dit nooit ‘n jagluiperd in die natuur klop nie.

Dag 2: Buffelsdrift Game Lodge. Pragtige plek wat waarskynlik heeltemal te duur vir ons sou wees om by te bly maar jy kan “klein” olifante daar voer teen ‘n aanvaarbare prys. Weereens ek verkies wilde olifante, maar dit was werklik interessant. En dit het ‘n groot indruk op Elke gemaak.

Ons ry aan Kango Grotte toe. Ongelukkig kon ons nie ingaan nie omdat Elke nog heeltemal te klein is. Maar as ek weer in die omgewing is sal ek baie graag die “Adventure” toer wil doen. Die storie van Veronica Hlabelela, ‘n oorgewig vrou, wat vasgesit het vir 10 ure laat ‘n mens egter twee keer dink oor die spul.

Meiringspoort

Meiringspoort

Ons ry oor die berugte Swartbergpas na Prins Albert toe. Dit was nie te erg nie, ‘n mens moet net stadig ry. Maar ek moet sê ek sal nie weer met lae profiel bande dit doen nie!! Prins Albert is ‘n pragtige sjarmante klein dorpie. Ons het terug Oudtshoorn toe gery deur Meiringspoort. Hier is ‘n baie bekende waterval & gat. Dit is rêrig iets om te ervaar. Jy klouter uit teen die omliggende kranse en duik in die skoonste water in. Die gat is vrek diep (ek het af geswem tot my ore begin pyn en ek was nie naby aan die bodem nie) so dis heel veilig om te duik; solank jy nie op die kranse gly nie.

Dag 3: Ons ry na die Rust en Vrede waterval so halfuur buite Oudtshoorn. Dis ‘n baie mooi waterval, maar dis nogal ‘n entjie om daar uit te kom en die gat is nie heeltemal so lekker soos Meiringspoort nie. Nog steeds beslis die moeite werd.

Ons verken ‘n bietjie Oudtshoorn self. Rêrig ‘n mooi Klein Karoo dorp. Daar is heelwat wat my aan Graaff-Reinet, waar ek op skool was, laat dink. Ons ry aan tot by Calitzdorp waar ons aangaan by die beroemde Boplaas. Die plaas is sekerlik die beste Port produseerders in Suid-Afrika en van die beste in die wêreld. Hulle verkoop direk aan die publiek en dit is nie duur nie.

Terug in Oudtshoorn gaan eet ons by Jemima’s, een van Suid-Afrika se top 10 restaurante. Die ambiance veral in die agterste vertrekke (by die tuin) is regtig spesiaal. Die kos is goed, maar regtig baie duur – te duur. Vir baie mense is die koste blykbaar nie ‘n probleem nie want die plek was so te sê vol, maar dit sit my af. Ek sal nie sommer weer gaan nie.

Dag 4: Ons ry oor die Outeniquapas deur George en stop by die Sedgefield mark. Ek is nie iemand wat mal is oor markte nie en hierdie keer was dit ook weer so. Te veel dagga en te min substance!! Ons gaan stop by ons ou gunsteling, die Lake Pleasant Hotel, vir middagete. Die plek beveel ek gemaklik aan. Die kos is nie goedkoop nie maar dis so lekker, dis beslis die koste werd!! En die uitsig is unbeatable. Alles inagenome is dit ‘n beter ondervinding as by Jemima’s en vir heelwat minder geld.

Bloukrans Bungee

Bloukrans Bungee

Vandaar ry ons huistoe – oeps nee amper vergeet ek. Nog een laaste stop. BLOUKRANS BRUG!! Ek het die vorige aand gelê en wonder of ek die guts het om te bungee. Toe ons verby ry het besluit ek moet probeer. Die hoogste bungee jump in die wêreld. Wel ek het my R620 betaal en gaan spring. Al het ek soos ‘n maer vark geskree, het ek dink baie geniet. Beslis een van die hoogtepunte van my lewe. Ek was net so bly dat ek dit uiteindelik gedoen het.

Alles en alles ‘n baie lekker familie vakansie en ons sal dit weer doen. Kyk gerus na al ons Oudtshoorn fotos en my Bungee Jump fotos.

Written by Attie Heunis

February 4, 2009 at 11:06 nm